GESKIEDENIS van GEMEENTE


In 5 dele:

1. ONTSTAAN en VROEŽ GESKIEDENIS


2. GEBOUE en STRUKTURE


3. FINANSIES en ANDER GELDSAKE (geldstories)


4. PREDIKANTE


5. RESENTE GESKIEDENIS

        


 


Dis nou die eerste uitgawe van ons nuwe Kerkblad en het ons gedink om weer ons  gemeentelede, waarvan heelwat nuut is, meer te vertel van die ontstaan van ons gemeente. Ons wil gemeentelede met inligting oor ons gemeente uitnooi om noemenswaardige gebeure met ons te deel sodat ons dit in toekomstige uitgawes vir ons mense kan vertel.


Ons gemeente was oorspronklik deel van die Knysna NG gemeente. In die vroeŽ negentien honderde was die predikante aangewese vir vervoer op perde, osse en waentjies en was die gebied net te groot van Sedgefield tot by die Bloukransrivier om te bedien. Op 29 Januarie 1930 hou die wyse manne toe 'n vergadering op Wittedrift en besluit om die gebied te verdeel tussen Plettenbergbaai en Knysna. Daar moes toe besluit word waar die beste plek vir 'n Kerkgebou was en Wittedrift het gewen. Die beskikbaarheid van water vir die osse was deurslaggewend omdat kerkdienste met ossewaens bygewoon is en daar is besluit dat Wittedrift die setel sou wees van die nuwe Oostelike gemeente.


Die gemeente was steeds uitgestrek en daar word vertel dat Ds. Coetzee, ons eerste predikant, deur een van die ouderlinge na die Soetkraal wyk op huisbesoek geneem is. Vir die wat nie weet nie, Soetkraal is daardie gebied noord van the Craggs en suid van die Langkloof. Dit het hom twee weke geneem om sy huisbesoek te voltooi, maar die huisbesoek was geweldig waardeer omdat dit die eerste huisbesoek in twaalf jaar was.


Die George ring, waaronder die McLachlan gemeente geval het, het die gemeente vernoem na 'n Knysna predikant wat baie goeie werk gedoen het in Knysna voor die afstigting. Blykbaar was die besluit om Wittedrift as setel te kies redelik sensitief en is besluit op 'n neutrale naam vir die gemeente.


Ds. Coetzee moes die eerste 6 maande by oom Thys van Huyssteen woon en toe 'n huis op Wadrift huur. Die eerste prioriteit was dus om vir die predikant 'n pastorie te bou. Die wyse manne het weer bymekaar gekom en £850 (R1700) begroot vir die pastorie. Die naaste kwotasie was toe £1213. Daar is toe besluit om die begroting te verhoog na £1000 en die pastorie kon gebou word met die hulp van die boere wat sand en gruis aangery het vir net 'n dankie. Oom Thys van Huyssteen het die grond vir die Kerk en pastorie geskenk.


Dienste is vir eers in 'n ou skoolsaaltjie gehou. Dit was nie meer goed genoeg nie en het die kerkraad weer 'n bedrag begroot, die keer £3000 vir die bou van 'n Kerk met minstens 600 sitplekke. Die kerk op Wittedrift is toe vir £2500 gebou soos dit nog vandag daar staan. 'n Ongelooflike prestasie as ons in gedagte hou dat al die kerkbanke uit geelhout van ons eie woude gemaak is en die preekstoel uit witels.


Ons moet onthou dat die afstigting plaasgevind het kort voor die depressie van die negentien dertigs en dit dus nog moeiliker was om sulke omvangryke bouwerk te doen.


Die NG gemeente wat vandag as die NG kerk Plettenbergbaai bekend staan was gebore en gereed om diensbaar te wees aan ons God die drie enige, sonder Wie se genade dit nie moontlik sou wees nie. Ons wil Hom weereens bedank vir die seŽninge oor ons gemeente uitgestort om dit alles vir ons moontlik te maak sodat dit vandag tot ons beskikking kan wees.


Rikus Truter

DIE BITOU KRUIK Okt/Nov 2006



 


Daar was reeds tydens die stigting van die McLachlan gemeente in 1930 lidmate wat gedink het dit sou beter wees om die kerk op Plettenbergbaai te bou. Plettenbergbaai  se probleem was egter dat daar nie drinkwater vir die osse was nie en omdat die vervoer hoofsaaklik van osse en perde afhanklik was, gevolglik is die kerk toe op Wittedrift gebou.


In 1935 is op Plettenbergbaai waar die huidige Le Vaillant kompleks (net noord van Cornuti’s) 'n kerksaal gebou met sitplek vir 300 lidmate. Dienste is maandeliks daar gehou en Nagmaal eenkeer per jaar. Die lidmate sou ook daar kon trou, maar voorstelling en aanneming is slegs op Wittedrift waargeneem. Gedurende die Kersvakansies was dit die hoof versamelplek vir vakansiegangers vir Sondag- en veral Kersdienste. Besoekende predikante, o.a. gemeente seun Jannie Lindenberg en sy swaer Jannie Malan (AasvoŽlkop) het gereeld hulle vakansies onderbreek om die dienste  in die kerksaal en te Wittedrift te lei 


Soos water in 1930 die kerk na Wittedrift gebring het, het water ook vir Plettenbergbaai 'n kerk gebring. Die publiek het Plettenbergbaai se see-strande ontdek en dit het 'n al groter vakansie bestemming geword. Net soos vandag gebeur, het baie mense wat hier vakansie gehou het, so van Plett gehou dat sommige besluit het om hul permanent hier te kom vestig. Plettenbergbaai het gegroei en die hoofdorp in die omgewing geword. Vervoer het verander van ossewaens na motorvoertuie en drinkwater vir diere het minder belangrik geraak as seewater. Groei in getalle het ook meegebring dat drinkwater aangelÍ is.


Dit spreek vanself dat druk sou ontstaan dat daar ook 'n kerk op Plettenbergbaai gebou moes word, veral toe die getalle die  van Wittedrift verby gesteek het. Die rede waarom die kerk op Wittedrift gebou is het verdwyn. Die NG Kerk  moes 'n kerk in Plettenbergbaai bou. Mens het begrip dat dit nie noodwendig 'n maklike proses was nie, veral omdat van die bates (soos die grond), uit die Wittedrif gemeenskap gekom het. Die aansienlike opbrengs van die verkoping van die waardevolle kerksaalgrond, het ruimskoots bygedra tot die besluit om die kerk en pastorie op sy huidige standplaas te Plettenbergbaai, op te rig en te finansier.


Gedurende 1986/1987 word 'n kerkgebou in Plettenbergbaai gebou en is in Augustus 1987 ingewy. Ds. Eggie Dippenaar was die leraar en dus ook die eerste inwoner van die Plett pastorie. Die feit dat die naam van die  McLachlan gemeente verander is, kort nadat die kerk in Plettenbergbaai gebou is, het die persepsie laat ontstaan dat die Plettenbergbaailidmate nou beheer oorgeneem het. Dit het oor 'n lang tyd spanning meegebring.  Dit is maar eers die afgelope paar jaar dat 'n meer objektiewe  aanvaarbare siening oor die twee kerkgeboue begin seŽvier het. Eredienste is ook so gereŽl dat lidmate keuses van diensbywoningstye het. Uiteindelik het dit aan almal duidelik geword dat dit nie saak maak waar ons die bediening van die Woord ontvang binne ons gemeente nie.


Ons glo en vertrou dat 'n pad van onnodige verskille nou aan sy heel einde gekom het en dat erkenning  gegee word daaraan dat God ons sal lei waar kerkgeboue wat gebruik sal word tot eer van Sy Naam , sal staan..


Rikus Truter

DIE BITOU KRUIK Nov./Des 2006

 

 


In die eerste twee dele het Rikus Truter vertel van o.a. die stigting van die gemeente in 1930; die keuse tussen Wittedrift en Plett; bou van die twee kerkgeboue, sale en pastorieŽ asook die lang tydperk van spanning tussen Wittedrift en Plettenbergbaai.


Die Gemeente ontvang van tyd tot tyd verslag oor die finansiŽle posisie.  Teen hierdie agtergrond is dit goedgevind om 'n bietjie te gaan delf in die Gemeente se finansiŽle verlede, veral die vroeŽr dae.


Oor die algemeen moes die Gemeente, veral in die beginjare, stoei om kop bo water te hou. Telkens is nuwe projekte in geloof aangepak en het harde werk en oop harte/beursies die knoop deur gehaak. Die afskop van die gemeente McLachlan kon nie op 'n meer ongeleŽ tydstip as 1930 geskied het nie. Die wÍrelddepressie van die dertigerjare het in 1930 begin met die ineenstorting van die New York aandelebeurs. Die impak op S.A. was so geweldig dat die Regering van Genl. Hertzog en die Opposisie by ooreenkoms saam regeer het met Genl. Smuts (opposisieleier) as adjunk-premier.


Die houtbedryf, wat op uitvoer gesteun het, is in besonder diep getref.  Boswerkers- -'n kerndeel van die lidmate -- was van die laags-besoldigde depressiewerkers in die land met 'n loon van 2 Britse pond (4 rand destyds) per maand.


Patats en koffie was die stapelvoedsel met ondervoeding meer die reŽl as die uitsondering. Boere, bywoners en boswerkers die grootste deel van die lidmaat-totaal) kon enersyds nie die gemeente finansieel onderhou nie en andersyds het daar boonop louheid ingetree weens die armoede, siektes, ondervoeding en gebrek aan rytuie wat dit bemoeilik het om fisies bande met die kerk te behou. Die gevolg was dat die gemeente amptelik vir jare as hulpbehoewend geklassifiseer is en 'n hulptoelaag van die Armesorgkommissie ontvang het.


Die Kerk, deur die onderskeie gemeentes, het boonop die opheffing van die arm Afrikaner hoog op die hart gedra. Die McClachlan-gemeente het nieteenstaande sy eie armoede, wondere verrig. 'n Aanhaling uit 'n geskiedenisstuk lui “Lidmate was bereid om op te offer deur die spreekwoordelike laaste stuiwer in die skatkis te gooi”


Maar sonder groot skenkings sou die gemeente in die vroeŽre jare nooit kop bo water kon hou nie en sou veral nie kapitaalprojekte kon onderneem nie. In hierdie verband is die Van Huyssteen- familie onlosmaaklik deel van ons gemeente-geskiedenis. Hulle, maar ook ander families, het grond geskenk en bykomend nog meer grond teen nominale pryse asook rentevrye lenings en beduidende kontantskenking. Een so kontantskenking van mnr DP van Huyssteen word spesiaal vermeld. Die £500-skenking was gelykstaande aan een-vyfde van die totale boukoste van die Wittedrift-kerkgebou. Oom Danie van Huyssteen het ook wesentlike skenkings gemaak om infrastruktuur te verbeter en mildelik tot 'n skuld- delgingsfonds bygedra. Die belangrikste bly egter die grond wat oor die langtermyn 'n kosbare skat blyk te gewees het. Teen 1943 was die gemeente steeds hulpbehoewend en met 'n swaar skuldlas. Die nuwe leraar ds. Strydom het egter met 'n grootse poging, deur van wyk tot wyk persoonlik spesiale oproepe te rig, in een jaar genoeg ingesamel om die skuldlas te delg. Gemeentelede het dit as 'n wonderwerk beskou.


Die status van ‘n hulpbehoewende gemeente was iets van die verlede!


Die Gemeente was ook intiem betrokke by die oprigting van skoolgeriewe deur beplanning en onderhandelinge en het selfs verantwoordelikheid aanvaar vir sekere kostes soos bv. meublement vir die eerste koshuis by die Wittedriftskool. Groot getalle arm kinders kon met die gemeente se hulp skoling ontvang. Ook op hierdie terrein het die Van Huyssteen-familie groot skenkings gemaak beginnende reeds in 1891, lank voor gemeente-stigting.


Sending was 'n ander finansiŽle verantwoordelikheid deur hulpverlening aan die plaaslike Kleurling-gemeente. Ons voorgeslag[te] het gewis geweet wat harde werk en “commitment” was. Wat 'n voorbeeld! Dit was sekerlik nie moontlik sonder besieling van die Heilige Gees nie.


Die bates wat dekades gelede aangeskaf en geskenk was, het die afgelope paar jaar uiters goed te pas gekom. Ons het 'n verantwoordelikheid om dit goed te bestuur en die waarde te beskerm.


Wynand Harmse

DIE BITOU KRUIK Feb 2007



 


Die gemeente het tot dusver 12 leraars gehad. Die eerste was ds. PH Coetzee, bevestig op Wittedrift in Julie 1931 en het hier 'n dienstydperk van 12 jaar beleef. Interessant is dat twee van hul seuns predikante geword het en hul dogter met 'n predikant getroud is. Die Coetzee-gesin kon in 1933 'n pastorie betrek en na drie jaar se kerk-hou in die skoolsaaltjie die voorreg verkry om eredienste in 'n kerkgebou (Wittedrift) te hou. Ds. Coetzee moes vir 'n lang ruk huisbesoek te perd of te voet doen, totdat die gemeente 'n Ford-motor tot sy beskikking kon stel. Die gemeente was arm met die amptelike status van hulpbehoewende gemeente. Sy kleindogter, Christelle  du Plessis woon in Plettenbergbaai.


Ds. JDW Strydom was vir slegs 'n kort tyd van drie jaar leraar in ons gemeente nl. van begin 1943 tot begin 1946.  Hy het baie gedoen om die finansiŽle posisie te verbeter en het vir hierdie doel deur alle wyke gewerk om dit te bereik. Die bydraes het in drie jaar vervyfvoudig en die gemeente kon sy hulpbehoewende status en sy leningslas afskud. Ds. Strydom onthou veral die Nagmaalvieringe met die kerkplein wat vol waens staan en ook die blymoedigheid, blydskap en dankbaarheid wat lidmate uitgeleef het.  Ds. Strydom is reeds oorlede.


Ds. CC Kritzinger, derde leraar, was vir 21 jaar predikant van ons gemeente, vanaf 1946 tot 1967. Hy sal veral onthou word vir sy passie en toewyding vir opvoeding en het kinders letterlik Ė en op eie stoom Ė uit die bosse gaan haal om skool te gaan.  Saam met hulp van 'n aantal lidmate/kerkraadslede het hulle 'n kritieke rol gespeel om skool-fasiliteite op Wittedrift uitgebrei te kry. Hy was 'n planmaker met groot dryfkrag. Een van die afgeleŽ ouers het glo van ds. Kritzinger gesÍ: “Ons predikant is 'n baie goeie mens, net jammer hy is so erg vir geleerdheid.” Hy is in 1978 op George oorlede.



Ds. AG du Toit was slegs vier jaar leraar by ons, vanaf 1967 tot 1971 toe hy 'n beroep na Port Elizabeth aanvaar het Ė 'n kort tydperk maar vrugbaar. Nes ds. Strydom het hy hard gewerk en beplan (bv. 'n oproep tot 'n werklike tiende in Oktober as tiende maand)  om die gemeente se finansies te verbeter en hy het selfs aangebied om teen 'n verminderde salaris te werk, iets wat die kerkraad nie wou oorweeg nie. Ds. du Toit leef nog en woon in Port Elizabeth.


Ds. JAC Scholtz was ons gemeente se leraar vanaf 1972 tot 1980. Van ons gemeentelede sal hom en sy gade steeds kan onthou. Ds. Scholtz het na skool eers 'n lang ruk gewerk en was selfs 'n tyd lank winkelier voordat hy met  spaargeld  sy  predikant-studies  by Universiteit  van Pretoria kon begin. Hy het in Kuruman groot geword en was lank in dele van Wes-Transvaal predikant. Plettenbergbaai was dus vir hom 'n totale nuwe omgewing en 'n nuwe kultuur waarby hy en sy gade moes inskakel. Gedurende sy ampstyd het Plettenbergbaai as dorp sterk gegroei en is die een erediens per maand op die dorp verander tot elke Sondag, aanvanklik aanddienste.


Ds. AC (Christof) Barnard  was gemeente leraar van 1980 tot 1984, toe hy na Swellendam-Wes geskuif het. Daar het hy in 2001 vroeg afgetree om saam met sy vrou, Nolette 'n sakeonderneming te bedryf. Ons gemeente was sy eerste bedieningspunt wat aan hom goed bekend was as “vakansieseun” in Nature’s Valley.  Hul eersteling was die eerste pastoriebaba in 'n lang tyd.


Ds. CAPO (Pauley) Malan (1915-1988) het as afgetrede leraar in die vroeŽ tagtigs in die gemeente diens gedoen, spesifiek in die Plettenbergbaai wyke en het meeste van die eredienste in destydse kerksaaltjie in Plettenbergbaai gelei.


Ds. EJJ Dippenaar en sy vrou, Connie, was vir nege jaar (1985 Ė April 1994) in die gemeente bedrywig. Hulle het eers in Wittedrift pastorie gewoon en was later die eerste inwoners van die Plettenbergbaai pastorie. Ds. Eggie was met sy bevestiging hier reeds omtrent 27 jaar in die aktiewe bediening en Plettenbergbaai was sy sewende gemeente.


In sy bedieningstyd is die Plettenbergbaai pastorie en kerkkompleks in gebruik geneem en die gemeente se naam is na Plettenbergbaai verander.  Ook is 'n tweede voltydse leraarspos geskep weens die toenemende ontwikkeling in die gebied. Hy is dertien jaar na aftrede steeds aktief in Bedieningswerk in die Mosselbaai omgewing. Ons sien Ds. en Mev Dippenaar nog gereeld hier, bv. by begrafnisse van ou bekendes.


Ds. Leon Oosthuizen was die eerste voltydse tweede leraar van ons gemeente. Hy is as jong proponent in 1992 hier georden en het in die Wittedrift pastorie gewoon met sy vrou, Hermina, en die twee dogters wat hier gebore is. Hy het op die jonger mense en kinders gefokus. In 2001 het hy deur 'n standplaasruiling met ds. Chris du Preez na Langenhovenpark, Bloemfontein verhuis waar hy steeds werk.


Ds. Willie Smith en Wynand Harmse 

DIE BITOU KRUIK Okt 2007



Die huidige drie leraars is:


Ds. Willie Smith  1994


In die Kruik-artikel skryf Connie Peet ondermeer oor Ds Willie:

Geniet dit om vir ontspanning kos te maak of te stap langs die see. Hy is lief vir skyfskiet en motors. Het self ‘n imposante versameling van miniatuur motors.

Vertel baie lekker hoe sy gesig bloedrooi was die dag toe hy - bitter jonk - vir die heel eerste keer iemand se oorskot op see moes strooi!  Niks minder nie as die van ‘n admiraal! Die stormsee om Kaappunt was kwaai. Die skeepskaptein ook. Die sterk wind laat toe die oorskot boemerang en siedaar die pikswart klere van die begrafnisgangers is spierwit! Ds Willie ken die militÍre lewe.

Wil geleentheid kry om die liefde wat hy in die lewe ontvang het terug te gee. Sy lewensboodskap is dat ‘n mens weer kan begin. Dat jy jou vergifnis moet leef en daardeur ‘n verskil kan maak.

Ds Willie is getroud met Charmaine.


Ds. Chris du Preez   2001


In die Kruik-artikel skryf Connie Peet ondermeer:

Duidelik 'n georganiseerde mens wat vertel dat hy tyd maak vir ontspanning.  Hy is lief vir klassieke musiek, kuns, bespeel orrel, klavier, kitaar en blokfluit.

Lees maklik’n boek per week en verkies vir ontspanning populÍre fiksie. Kyk saam met Emmarenthia na kookprogramme en sou die Franse- en Spaanse platteland wou verken. Hy is baie gelukkig in Plett en beskou sy tyd hier is as ‘n genadegawe van die Here. Hy vertel dat hy homself sien as  ‘n “Jack of all Trades” en perpetuele student.

Het ‘n ‘gesonde’ vrees vir stagnasie.

Ds Chris is getroud met Emmarenthia.


Ds. Emile Naudť was Tentmaker vanaf 2002 tot 2008.  Hy is tans (vanaf Nov 2009) leraar van die Gereformeerde Kerk in Eden. (Knysna en Plettenbergbaai).


 


ONS GEMEENTE BEREIK EINDE JANUARIE 2010 DIE MERKWAARDIGE MYLPAAL VAN 80 JAAR:


 Die geskiedenis van die Gemeente, tot 2006, word in hierdie uitgawe in 4 dele aangebied. Dit het ‘n paar jaar gelede in verskillende uitgawes van die Kruik verskyn. Nagenoeg vier jaar het sedertdien verloop nadat ‘n


Gemeentebouprogram ontwikkel en aanvaar is met die doel om ‘n nuwe gemeentevisie na te streef.  Ons leef in ‘n wÍreld wat nie eens in die minste herinner aan die omstandighede van destyds, of selfs ‘n dekade of twee gelede, nie.  Die veranderde omgewing stel nuwe uitdagings deurdat waardes en benaderings/uitgangspunte  nou wesentlik anders is  of  anders vertolk word,  terwyl baie “waarhede” van toeka se dae vandag wyd bevraagteken word - - met ‘n groot mate en gees van skeptisisme. Dit skep verwarring by sommige gelowiges.  Ons eie land het polities sodanig verander  dat  bloot dit alleen, nuwe uitdagings aan ons Christelike geloof, ‘n Christen se taak en die rol van die kerk stel.  Daar word inderdaad groot-oog na die kerk gekyk om leiding te neem op vele terreine in ‘n verskeurde en verwarde Suid-Afrikaanse samelewing.


HOE SIEN ONS GEMEENTE TANS DAARUIT?   Dis deel van ons gekiedenis:

Teen bogenoemde agtergrond is die Gemeentebouprogram aangepak en is dit kern tot die vraag oor waar ons vandag staan.  Die missie “As familie in Christus - - loof en verheerlik ons God - - inspireer ons mekaar en elkeen om ons - - en gee ons om en bring hoop vir Bitou” word ondersteun deur verskeie doelwitte op die 5 terreine van:  Eredienste;  Lidmaatbediening;  Opleiding en Toerusting;  Uitreiking;  en Kommunikasie.


Die doelwitte ten opsigte van eredienste gaan oor ‘n groter belewenis daarvan, veral deur die uitbouing van musiekbediening en gasvryheid asook beplannning van preke en temas.  


Die doelwitte ten opsigte van lidmaatbediening gaan oor   a] die uitbouiing van deernisbediening aan verskeie groepe lidmate [ bejaardes, siekes, ander hulpbehoeftes];    b] verwelkoming, inskakeling en betrokkenheid van nuwe intrekkers;    c] vestiging van groepe wat daarop gemik is dat “lidmate verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar, saam aanbid en saam om God se Woord vergader”.  Dit kan wees via Omgeegroepe, Wyke, Belangegroepe, Sosiale groepe/geleenthede  en Jeugaksies.  [Nota: ongelukkig het Omgeegroepe nie gerealiseer  nie en die wykstelsel funksioneer in baie gevalle ondoeltreffend. Alternatiewe wyses en ‘strukture’ om lidmaatbediening meer suksesvol en volgens behoefte te kan doen, moet dus gevind word. Daar is onlangs besluit om tov pastorale werk, die gemeente te verdeel in Noorderkruis en Suiderkruis, wat onderskeidelik deur Ds Chris du Preez en Ds Willie Smith bedien sal word.  Dit gee  erkenning aan die onderskeie kulture van Wiitedrift en Plettenbergbaai en aan die verskillende maniere van doen en bearbeiding van lidmate deur die twee leraars.]   


 Die doelwitte ten opsigte van Opleiding en Toerusting gaan oor die identifisering en die toerus van leiers met die doel om “georganiseerd uit te reik na kerk-vervreemde lidmate en buite-kerklike persone in Bitou” en om leiding te neem in aksies rondom geestelike verryking van lidmate buite die erediens. [planne om hierdie doelwitte te bereik nog slegs in geringe mate geÔmplementeer].


Uitreiking behels dit waarna in vorige paragraaf verwys is, maar sluit in bybelverspreiding en bediening wat hulp in enige vorm gee aan mense binne en buite die gemeente, (bv. die werk wat deur Bitou-opleiding gedoen word [tans opleiding van huisbediendes maar vroeŽr ook reeds kleuteropsieners];  naaldwerkklasse;  die talle sopkombuise; klere-verskaffing aan armes; ‘n noodspens by kerkkantoor vir hongermense in nood,  vergestalt van die doelwitte wat in hierdie verband gestel is.)


Kommunikasie: Die maandelikse gemeenteblad ‘Die Kruik’ spruit direk uit die Gemeentebou-doelwitte en is nou in sy 5e bestaansjaar;   so ook die nuwe webwerf wat nog in die eerste kwartaal van 2011 voltooi en beskikbaar gestel sal word. (Die respons op ‘n vraelys dui daarop dat die Kruik goed gevestig is as integrale deel van die gemeente se aktiwiteite en kommunikasie).  Die Kerkkantoor bedryf  e-pos en  sms-stelsels wat deur bedieningsgroepe benut kan word of vir enige aktiwiteite en inligting asook FACEBOOK vir sosiale kommunikasie.


As grondslag vir die werking van die Gemeente en die onderskeie bedieningsgroepe, word voorgehou:   dat Jesus Christus sentraal gestel word in alles wat ons aanpak en doen;  dat die bediening teruggegee word aan die lidmate;  ;  dat betekenisvolle verhoudings en omgee nagestreef word;  dat deelnemende besluite en bestuur as algemene werkwyse dien;  dat leierskapbronne ontgin word. Verder  moet daar beplan word om spesifieke konkrete missionÍre aksies te onderneem asook dat pastorale besoeke in gemeenskap geskied;  en dat voortdurende evaluasie en terugvoer aan Gemeente, gedoen word.


Vir die rekord: 

>Die Gemeente bestaan tans uit meer as 800 belydende lidmate en sowat 200 nie-belydendes. Daar is deurentyd nuwe intrekkers wat hoofsaaklik uit Gauteng kom.  Eredienste word elke Sondag te Plettenbergbaai en Wittedrift aangebied asook eenkeer per maand in Nature’s Valley en Harkerville.


>Die Gemeente se finansies is in die posisie waar sowat een-kwart van lopende uitgawes deur  rente-inkomste en kapitaal (beleggings)  voorsien word. (Beleggings uit verkoop van grond, waaroor ons baie dankbaar is, maar wat uiteraard nou uitgeput raak).  Die Gemeente staan dus voor die uitdaging van beduidende verhoging in offergawes oor die volgende paar jaar of andersins ‘n aanpassing in die basiese struktuur van uitgawe. Uitreik-aktiwiteite, wat inherent deel is van die kerk se rol en inderwaarheid ‘n opdrag is, gaan ook om meer befondsing pleit.  


Die Here het ons tot hier gelei en daar kan slegs groot dankbaarheid in ons harte wees dat dit oor soveel dekades so goed gaan met ons gemeente.  Dankie Here onse God, vir U groot Genade.


Wynand Harmse


Psalm 100 Ė ‘n Dankpsalm: 


Juig tot eer van die Here, almal op aarde!  Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!  Erken dat die Here God is:  Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.  Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.



Terug na bo